Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

my grootwordplek

Do, 18 Augustus 2022 15:33

vir elke mens is sy grootwordplek die beste
al is dit nou in die noorde, suide, ooste of weste
daarom sal my hart altyd in die groot karoo lê
want ongeag wat die meeste mense daarvan sê
loop daardie stuk leegte oor van spontane liefde

wanneer die kapok in die middel van die winter op die groot swartberge lê
sal jy steeds die warmte van gasvryheid en besorgdheid hê
wat die mense van daardie streek openbaar
teenoor elke lewende wese wat hulle gewaar
omdat dit vir hulle so spontaan soos asemhaling is

terwyl die somerhitte die aarde teen veertig grade skroei
sal jy vind dat daardie mense hulle bemoei
met die taak om koelte en lafenis aan alle wesens te bied
wat hulle pad mag kruis en dit is absoluut verniet
want vir hulle is dit deel van die rede om in die oggend op te staan

wat meer is daar wat ‘n mens wil hê
wat meer is daar wat ek kan sê
as baie, baie dankie Vader
vir die wonderlike voorreg om so ‘n grootwordplek te mag hê

Prosa & poësie | 0 kommentare

o Gog, help ons

Do, 18 Augustus 2022 15:31

o God help ons in hierdie steeds pragtige land
om die wil te hê om dit pragtig te hou
sodat ons kinders ook die mooi van u Skepping mag aanskou
en dit vir hul kroos kan bewaar
om eendag lank hierna te kan sê
“baie dankie God vir ‘n pragtige land”

o God help ons in hierdie eens veilige land
om die moed te hê om dit weer veilig te maak
sodat ons kinders ook die veiligheid van u Skepping mag smaak
voordat hulle nie meer hul eie kroos kan hê
om eendag lank hierna te kan sê
“baie dankie God vir ‘n veilige land”

Prosa & poësie | 0 kommentare

ek mis jou, pa

Do, 18 Augustus 2022 15:30

ek weet jy hou my dop van daar bo
om te sien hoe jou jongste sy lewe lei
maar pa ek mis jou so
ek weet nie altyd hoe om die dag om te kry
want jy sou my antwoorde op so baie vrae kon gee
vrae wat byna uurliks die rede vir die lewe
soos waasbeelde deur my breinkamers kom vee
en wat my liggaamlik van vrees laat bewe

omdat ek nie die antwoorde daarop ken
en jy nie meer daar is om my te help om hierdie stryd te wen

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n glimlag

Do, 18 Augustus 2022 15:28

‘n glimlag word beskou as die teenoorgestelde van ‘n traan
maar die waarheid lê eintlik baie ver hiervandaan
want net soos daar ‘n traan van vreugde bestaan
maak ‘n glimlag soms ‘n spesifieke pyn ongedaan

waar kom ‘n glimlag en ‘n traan dan vandaan
as hulle so hand aan hand met mekaar gaan
dalk raak ek hier ‘n baie teer plekkie aan
want hulle is eintlik opponente, maar hulle verskyn so spontaan

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n traan

Do, 18 Augustus 2022 15:27

‘n traan kan so baie dinge sê
aan die persoon wat daarna kyk
sonder dat die traandraer dit wou hê
dat die boodskap van die traan so moes lyk
soos dit tans op die kyker se geheuebeeld lê

Prosa & poësie | 0 kommentare

baie dankie God

Do, 18 Augustus 2022 15:25

U het in my lewe ingegryp
op ‘n manier wat ek nie kon verstaan
maar U het my ook die krag gegee om voort te gaan

voort te gaan met die wete dat U altyd by my is
saam met my pragtige gesin
die vrou en dogters vir wie ek so bemin

so bemin nie omdat ek in rykdom lewe
maar omdat ek elkeen van hierdie mense
sien as individue met liefde sonder grense

sonder grense wat my bind
sodat ek elke dag as ‘n gawe mag ervaar
en besef ek is nog ‘n dag gespaar

dag gespaar om U te prys
vir die wonderlike gevoel wat dit bring
om die Skeppingswonder te besing

Prosa & poësie | 0 kommentare

die plaas in die kloof

Do, 18 Augustus 2022 15:24

iewers in ‘n swartbergkloof
is daar ‘n plaas wat ek nooit sal vergeet
omdat ek daar met die natuur en geloof
as kleuter kennis kon maak
sonder die vloek van kraanwater en elektrisiteit

wanneer ek my oë sluit
sien ek alles wat op die plaas gebeur
ons kinders klouter die hoë berge uit
sodat mans en vroue in vrede kan swoeg
om reuse disse vir maaltye gereed te kry

maar iemand het die plaas van sy hart beroof
want daar is nie meer ‘n opstal
op angelierbos in die swartbergkloof
gelukkig verskyn beelde van die ou opstal
steeds op foto’s in albums en in my geheue

Prosa & poësie | 0 kommentare

die druppels in ons lewe

Do, 18 Augustus 2022 13:42

terwyl die ruitveërs
soos die swaaiende arms van ‘n verwoede beer
die vallende druppels van die ruit wegvee
sodat dit nie my sig kan belemmer
dink ek onwillekeurig aan die druppels in ons lewe

die druppels wat kilometers ver uit die hemel val
en elke stofbedekte wese (lewend en nie-lewend) reinig
asook elke holte (bo- en ondergronds) vul
sodat plant en dier
heerlik aan mekaar mag smul

die druppels wat as ‘n stroom uit die kraan se bek val
en die mens se moeë liggaam reinig
asook elke kospot vul
sodat mens en dier
heerlik aan die gereg mag smul

die druppels wat uit die oë oor die wange rol
en die mens se traumagevulde siel reinig
asook uiting aan ‘n opgewekte lagbui gee
sodat elke opregte mens
daarmee meegesleur word

Prosa & poësie | 0 kommentare

mikrokosmos

Do, 18 Augustus 2022 13:41

die besige heuningby
sal jy altyd tussen blomme kry
waar hulle stuifmeel soek
vir die maak van die heuningkoek

die arbeidlustige mier
is nie oorspronklik van hier
maar is uiters aanpasbaar
om op enige plek nes te skop en kos te vergaar

die asemrowende vlinder
moet jy nooit verhinder
as jy hom in jou tuin ontmoet
en hy jou met sy kleureprag groet

die peslike vlieg
wat meer sit as vlieg
kan net jou dag versuur
terwyl jy klappe in sy rigting stuur

die nimlike liewenheersbesie
is die welkome spesie
wat dag na dag na dag
die luise op jou spogplante jag

die haatlike muskiet
bring net verdriet
as dit jou bloed en nagrus kom steel
en die spieël wys jy het jou nie verbeel

Prosa & poësie | 0 kommentare

totsiens mamma

Do, 18 Augustus 2022 13:39

bitterlik diep sny die seer
soos ’n skelpel so diep
om u so vreeslik stil en eensaam daar te sien lê
maar dan onthou ek dat dit juis is wat u vir soveel jare reeds wou hê
omdat u gevoel het dat u taak hier op aarde volbring was
maar dit was nie
want u het steeds soveel gehad om aan ander te gee

daar is nog massas vrae wat ek u wou vra en ook soveel dinge wat ek u wou sê
maar nou is dit te laat
want u het reeds u finale sê gesê
met die woorde van daardie pragtige afskeidsgebed
wat vir ewig in my hartsargiewe bewaar sal bly

al sny die seer so bitterlik diep
is ek nie kwaad nie
omdat ek verstaan dat u hierdie finale rus verdien
want vir meer as ’n eeu
het u u selfs in die moeilikste tye
oor ander ontferm sonder om ’n enkele klagtewoord daaroor te uiter

u gaan nou na ’n onbekende wêreld ver verwyderd hiervandaan
om aan die sy van u Skepper met ou kennisse en familie te herenig
ek gaan u vreeslik mis maar baie baie dankie vir ’n wonderlike lewe
en vir alles wat u vir my moes opoffer
vergewe my asseblief vir die tye waar ek u in die steek gelaat het

ek wil u graag nog ’n laaste guns vra:
wanneer u by pappa kom vertel hom hoe lief ek hom het en hoe baie ek hom mis

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16  17  18  19    »]
Tyd nou: Vr Apr 19 09:16:51 MGT 2024